Die feit dat sommige plante en diere voedsel vir andere is, is een van die ooglopende wyses waarop hulle onderling met mekaar verbind is.

Alle lewende organismes moet voedsel inneem sodat hulle

  • oor die nodige boustowwe vir hul eie instandhouding en herstel beskik, en
  • energie het om te leef en te groei.

 

 

 

 

 

 

Konsepkontrole: Plante en fotosintese
Plante kan deur die proses van fotosintese lig-energie in voedsel-energie verander. Selfs nie die slimste wetenskaplikes wat in die mees gevorderde laboratoriums werk, het al ooit kon regkry wat gras, kruie en bome elke dag doen nie.

Plante voorsien bykans alle diere op aarde van voedsel. Sonder blare sou daar geen ruspes of koeie wees nie; sonder blomme sou daar geen bye of skoenlappers wees nie en sonder vrugte sou daar geen voëls of bobbejane wees nie. Sonder plante sou daar geen brood, melk, kool of hoenders wees nie. Sonder plante sou ons nie kon bestaan nie.

 

 

 

 

 

 

Konsepkontrole: Voedselpiramiedes

Kyk na die voedselpiramiede om uit te vind “wie eet wie/wat” in Kaapstad se laaglande. In die voedselpiramiede word sommige plante en diere op die plakkaat in verskillende voedselvlakke, na gelang van hulle produksie (vervaardiging] of verbruik (gebruik) van voedsel-energie, gesorteer.

  • Plante word produsente genoem omdat hulle voedsel-energie kan produseer.
  • Diere word verbruikers genoem omdat hulle voedsel-energie slegs kan verbruik.
  • Diere wat plante vreet (plantvreters), word herbivore of Primêre verbruikers genoem.
  • Diere wat ander diere vreet (diervreters), word karnivore genoem. Hulle kan Sekondêre, Tersiêre , of hoër vlak-verbruikers wees.
  • Diere wat sowel plant- as diervreters is, word omnivore genoem.

Skuif jou muis oor die piramiede om die verskillende plante en diere by verskillende vlakke van die piramiede te vind.

 

 

 

 

 

 

 

Hoekom 'n piramiede gebruik?
Die grootte van elke vlak in ’n voedselpiramiede verteenwoordig óf die aantal plante of diere, óf die massa van hierdie plante en diere op elke vlak in ’n bepaalde ekosisteem.

Vrae

Hoekom sou ’n driehoekige vorm soos ’n piramiede gekies word om die aantal of massa van plante of diere op elk van hierdie vlakke weer te gee?

Soek die mier op die diagram. Hoekom sou die kunstenaar hom tussen die twee vlakke van die voedselpiramiede geteken het?

Bespreek hierdie vraag in klein groepies en bespreek julle idees dan in die klas.

 

 

 

 

 

 

Konsepkontrole: Voedselkettings en voedselwebbe:

In die ekologie maak ons gebruik van eenvoudige voedselkettings en meer komplekse voedselwebbe om aan te toon “wie eet wie of wat”. Hierdie diagramme toon aan hoe voedsel-energie van een organisme na die volgende in ’n ekosisteem vloei. Die pyltjies verteenwoordig energie. Hulle verbind die plante met die herbivore, en die herbivore met die karnivore.

Ons kan van die plante en diere op die plakkaat voedselkettings en voedselwebbe bou:

 

 

 

 

 

 

 

 

’n Laagland-voedselweb:

Voedselkettings en voedselwebbe toon duidelik aan dat plante en diere mekaar nodig het om te kan oorleef. Indien ’n sekere spesie uit ’n ekosisteem verdwyn, sal dit ’n impak hê op die ander plante en diere wat onderling met dié spesie verbind is.

Vraag

Lees die beskrywings van die plante en diere op die plakkaat en sleutel om jou eie laagland-voedselkettings en -voedselwebbe te skep.

Fynboslaagland-voedselweb-sleutel:
  Produsent   Herbivoor   Karnivoor

 

 

 

 

 

 

 

 

Voedselverhoudings in vleilande

Die meeste van die plante en diere op die plakkaat is landplante en landdiere, of territoriaal. Hierdie vleiland-voedselweb toon voedselverhoudings tussen plante, diere en mikroörganismes in ‘n water-ekosisteem aan: hulle leef in die water, of is akwaties.

Vleiland-voedselweb-sleutel:
  Produsent   Herbivoor   Omnivoor   Karnivoor

 

 

 

 

 

 

 

 

Akwatiese voedselwebbe is meer gekompliseerd as territoriale/landelike voedselwebbe:

  • Die meeste plante wat ooglopend vleilandplante is, soos papkuil en rietsoorte, is so taai terwyl hulle groei dat baie min diere hulle kan vreet. Die belangrikste voedselprodusente in vleilande is trouens mikroskopiese alge en onkruid in damme/poele.
  • In vleilande speel mikroskopiese organismes ‘n baie belangrike rol in die voedselweb. Dit sluit bakterieë, alge, protosoa en klein skaaldiere in.
  • Klein vissies, sommige insek-larwes, eende en flaminke kan van hierdie mikroskopiese organismes leef deur hulle uit die water te filtreer. Ons noem dit filtreervoeding.
  • Baie diere in akwatiese ekosisteme aas op verrottende plante en diere-afval, genaamd detritus. Dit is die organiese afsaksel (slik) wat op die bodem van vleilande gevorm word.