Wat van my?

In hierdie module het ons gesien dat baie mense in Kaapstad saamwerk om vir die omgewing te sorg. Jy kan met hierdie organisasies in verbinding tree as jou skool of jeuggroep hulp benodig met die beplanning van omgewingsprojekte.

Maar wat kan ons in ons eie lewens as individue, gesinne en omgewings doen om op so ‘n wyse die natuur te beskerm en vir die omgewing te sorg dat die natuur en die omgewing kan voortgaan om vir ons te sorg?

 

 

 

 

 

 

 

Oorlewer Planeet Aarde

Daar is bykans 6.5 biljoen mense soos ons wat vandag op Aarde leef. Dit is 6 500 000 000 mense! Kan jy jou so ‘n groot getal voorstel?

Elkeen van ons leef van wat die Aarde voorsien:

  • Skoon lug
  • Skoon water
  • Voedsame kos
  • ‘n Huis om in te leef
  • Klere om te dra
  • Dinge om te doen – om te werk en om te speel

 

 

 

 

 

 

 

Gedurende ons lewens produseer ons elkeen tonne afval:
  • Liggaamlike afval, soos uriene en uitwerpsels
  • Rommel, soos plastiek, glas, papier en kannetjies
  • Water besoedel met seep, olie, verf en gifstowwe
  • Lug besoedel met rook en walms en gasse afkomstig van motors, brande en fabrieke

Ons het net een Aarde om in ons behoeftes te voorsien en om ons afvalstowwe te absorbeer, MAAR

  • daar is meer mense op Aarde as ooit tevore,
  • mense verbruik baie meer as ooit tevore, en
  • mense produseer baie meer afval as ooit tevore

 

 

 

 

 

 

 

Verdeel in groepe van vier tot ses. Jou groep verteenwoordig ’n omgewingsbestuursmaatskappy.

Lees jou uitdaging hier onder:

Die Stad Kaapstad staar ’n omgewingskrisis in die gesig!

  • ’n Lang droogte het ’n ernstige gebrek aan water veroorsaak.
  • Besoedeling van riviere, vleilande en die see bedreig die gesondheid van mense; dit hou ook gevaar vir toerisme by die kus in.
  • Lugbesoedeling op die Hoëveld het gelei tot die sluiting van ’n aantal ou steenkoolaangedrewe kragstasies, wat kragonderbrekings veroorsaak het.
  • Opvullingsterreine word vinnig vol en die Stad beperk elke huishouding tot slegs een sak vullis per week.
  • Natuurbewaringsbeamptes meld uitsterwing van plante en diere in plaaslike natuurreservate aan.

Die burgemeester het ‘n beroep op die inwoners van die stad gedoen “om ligter op die Aarde te leef”. Sy het jou omgewingsmaatskappy aangestel om riglyne vir ’n volhoubare lewenswyse vir die inwoners van Kaapstad op te stel. Lees meer hier onder...

  • Hou in jou groep ‘n dinkskrum oor idees vir die besparing van water en energie, die vermindering van afval en besoedeling en die bewaring van die natuur. Ontwikkel riglyne vir ’n volhoubare lewenswyse vir huishoudings in Kaapstad.
  • Bied jou idees kreatief en met oortuiging in 'n rolspel vir jou klas aan.
  • Begin om jou gedagtes tuis en by die skool te implementeer!