Natuurreservate in Kaapstad
(Klik daarop!)

Bewaringsvennote

Die Stad Kaapstad is nie die enigste organisasie wat omgee vir die natuurgebiede en biodiversiteit in Kaapstad nie. Die nasionale en provinsiale regering, nie-regeringsorganisasies, vriendegroepe en besighede is ook betrokke by die bewaring van biodiversiteit in Kaapstad. In hierdie afdeling sal ons uitvind van sommige van hierdie organisasies en groepe.

Die kaart wys waar die organisasies hul bevind.

  • Klik hier vir ‘n opsommingstabel van organisasies wat by die bewaring van biodiversiteit in Kaapstad betrokke is.

 

 

 

 

 

 

Biosfeerreservate: Kogelberg en Kaapse Weskus
  • Biosfeerreservaat sonasieBiosfeerreservate is gebiede waar die gebruik van grond met sorg vir natuurbewaring en die verkryging van volhoubare ontwikkeling beplan word.
  • Die Verenigde State  het die gedagte van biosfeerreservate ontwikkel.
    • Die sentrale kern van ‘n biosfeerreservaat is ‘n beskermde natuurgebied waar aktiwiteite wat die natuur kan beskadig of versteur, nie toegelaat word nie.
    • Die kern word omring deur ‘n buffersone, waar aktiwiteite soos opvoeding, toerisme en navorsing plaasvind. Hierdie aktiwiteite rig baie min skade in die natuur aan.
    • Buitekant die buffersone is daar stede, plase en nywerheidsgebiede.

 

 

 

 

 

 

 

  • Die dire funksies van 'n biofeerreservaatDie Kogelberg-biosfeerreservaat het in 1998 in die hartjie van die Kaapse Floristiese Streek tot stand gekom. Dit is meer as 103 000 hektaar groot, ongeveer 1 650 verskillende tipes plante groei daar en 150 daarvan groei nêrens elders op aarde nie. Die Kogelberg-natuurreservaat en ‘n deel van die Steenbrasdam-opvanggebied maak die kern van hierdie biosfeerreservaat uit.

  • Die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat  het in 2000 tot stand gekom. Dit beslaan 378 000 hektaar en strek vanaf Dieprivier in Milnerton tot by die Bergrivier. Dit sluit die Rietvlei-vleilandreservaat en die Blaauwberg-bewaringsgebied in. Die Weskus Nasionale Park is een van die kerngebiede. Hierdie biosfeerreservaat is bekend vir sy lenteblomme en sy visbedryf.
  • Daar is wêreldwyd meer as 450 biosfeerreservate in 90 lande.

 

 

 

 

 

 

 

BotSoc-LOGOBotaniese Vereniging van Suid-Afrika (BotSoc)
  • Die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika, een van die oudste en grootste NGO’s in die land, is in 1913 van stapel gestuur. Sy hoofkantoor en boekwinkel is in die Kirstenbosch-tuin geleë.
  • Jy en jou gesin kan lede van die Botaniese Vereniging word. Met lidmaatskap kan jy gratis toegang tot al agt nasionale botaniese tuine, met inbegrip van Kirstenbosch, verkry. Jy ontvang ook ‘n kwartaallikse tydskrif genaamd Veld & Flora, sowel as afslag van die boekwinkel.
  • Daar is landwyd takke van die Botaniese Vereniging. Lede wat in Kaapstad woon, behoort aan die Kirstenbosch-tak. Die tak organiseer staptoere, praatjies en die jaarlikse plantuitverkoping by Kirstenbosch.
  • Die Botaniese Vereniging doen belangrike navorsing met betrekking tot die bewaring van Suid-Afrikaanse inheemse plante, bv. die identifisering van die belangrikste plantbewaringsterreine in Kaapstad.
  • Die Botaniese Vereniging het, in medewerking met Stad Kaapstad, hierdie omgewingsopvoedingspakket saamgestel.

 

 

 

 

 

 

 

C.A.P.E. logoCape Action for People and Environment (C.A.P.E.)
  • Die C.A.P.E. is ‘n vennootskap van baie organisasies in die Kaapse Floristiese Streek. Die C.A.P.E. beoog die verkryging van volhoubare ontwikkeling in die streek sodat sowel die mens as die natuur daarby kan baat.
  • Baie van die bewaringsorganisasies wat in Kaapstad werk, is vennote van C.A.P.E., bv. die Botaniese Vereniging, CapeNature (Kaapse Natuurbewaring), Stad Kaapstad, SANBI, die Tafelberg Nasionale Park en WESSA.
  • Die C.A.P.E.-webwerf sal jou met hierdie vennote en hul projekte in verbinding stel.

 

 

 

 

 

 

 

 

'n Voël wat gering wordCape Bird Club-LOGOKaapse Voëlklub
  • Die Kaapse Voëlklub is die Wes-Kaapse Tak van BirdLife South Africa (Voëllewe Suid-Afrika). Hierdie nasionale NGO is betrokke by bewarings-, navorsings-, opvoedkundige en toerisme-ontwikkeling wat op voëls van toepassing is.
  • Die Kaapse Voëlklub, in medewerking met plaaslike voëlklubs, (bv. die van Somerset-Wes en Tygerberg) bied hulp aan talle van Kaapstad se natuurreservate met bewarings- en opvoedkundige projekte.
  • Voëlklubs het talle reservate gehelp met die opstel van voëllyste sodat besoekers kan weet watter voëls hulle moontlik in die reservate te siene sal kry. Hulle vang ook voëls in die reservate en bering hulle (sit ringe aan) om meer van hul bewegings te wete te kom.
  • Primêre skool-leerders kan deelneem aan uitstappies van die Junior Voëlklub wat maandeliks in en om Kaapstad plaasvind.

 

 

 

 

 

 

 

Cape Flats Nature (Kaapse Vlakte-natuurbewaring) – herverbinding van mens en natuur

 Zwai Peter werk vir ‘n projek met die naam van Cape Flats Nature.

“ By Cape Flats Nature glo ons dat ons vir die natuur moet sorg sodat die natuur vir ons kan sorg. Ons werk saam met mense wat naby die drie natuurreservate van die stad op die Kaapse Vlakte woon om uit te vind hoe die reservate hulle kan bevoordeel en hoe hulle kan help om vir die natuur in die stad te sorg. Ons is by die Edith Stephens-vleilandpark in Lansdowne-weg gestasioneer en ons werk ook by die Wolfgat-natuurreservaat en die Macassar-duine. Die reservaatbestuurders ondersteun gemeenskapsprojekte soos omgewingstaptoere vir die jeug en die aanplant van plante met medisinale eienskappe. Ons omgewingsbeamptes is ook by plaaslike skole en omgewingsprogramme betrokke. Ons hoop om in die toekoms soortgelyke werk in die noorde van die stad by Mamre, Atlantis en Silwerstroom-strand te doen.”

 

 

 

 

 

 

 

EERU logoKaapse Vlakte-natuurreservaat  
  • Die Kaapse Vlakte-natuurreservaat is 32 hektaar groot. Dit is ‘n private natuurreservaat naby die voorstede Belhar, Bellville en Parow. Dit word bestuur deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).
  • Die reservaat bewaar strandveld en ‘n klein gedeelte van sandfynbos. Daar is ongeveer 220 plantspesies in die reservaat, insluitend die trefbare sukkulent, genoem vingerpol (Euphorbia marlothiana). Meer as 100 voëlspesies is al in die reservaat opgemerk.
  • Die Environmental Education and Resources Unit (EERU) [Omgewingsopvoeding en -hulpbroneenheid (OOHE)] [www.botany.uwc.ac.za/eeru]  by UWK bied omgewings-opvoedingsprogramme, bv. begeleide velduitstappies, na die Kaapse Vlakte-natuurreservaat vir skool-, studente- en gemeenskapsgroepe aan.
  • Die EERU bied ook hulp aan skole en gemeenskappe met vergroeningsprojekte (aanplant van groen struike en bome).

 

 

 

 

 

 

 

CapeNature logoCapeNature (Kaapse Natuurbewaring)

  • CapeNature is die Wes-Kaap se provinsiale natuurbewaringsagentskap. CapeNature bestuur 34 natuurreservate in die Wes-Kaap, insluitend die Driftsands- en Kogelberg-natuurreservaat.
  • CapeNature het ook ‘n Stewardship-program (Rentmeestersprogram) wat boere aanmoedig om hul grond op te pas. Die Kaapse geelslang

Driftsands-natuurreservaat

  • Die Driftsands-natuurreservaat word deur CapeNature bestuur. Dit is een van die enigste provinsiale natuurreservate in Suid-Afrika wat in ‘n stad gevestig is. Dit word omring deur die voorstede Khayelitsha, Blue Downs, Mfuleni, Delft en Wesbank.
  • Hierdie reservaat is 650 hektaar groot en is in 1983 geproklameer. Dit bewaar strandveldplantegroei, seisoenale vleilande en dele van Kuilsrivier. Daar is ook watervoëls in ‘n dam op die reservaat.
  • CapeNature, in samewerking met Stad Kaapstad, bestuur die vloedwaterplein van Kuilsrivier langs Khayelitsha en Macassar.
  • In die verlede was ekosisteme by Driftsands bedreig deur veelvuldige brande, oorbeweiding, sandmyne, afvalstorting en indringerplante. Sedert CapeNature die reservaat bestuur en indringerplante verwyder het, het die natuurlike veld begin herstel. Daar is plante ontdek wat baie jare lank nie in die reservaat opgemerk is nie.

 

 

 

 

 

 

 

  • Die diere in die reservaat sluit in: The groot witpelikaan word byna bedreig.
    • Soogdiere: Die duiker, klein kommetjiesgatmuishond, Kaapse otter en die ystervark.
    • Reptiele: Die molslang, Kaapse kobra en die pofadder.
    • Voëls: Die suikerbekkies , vinke, rooivalke, bleshoenders, kleindobbertjies, groot wit pelikane (byna bedreig) en die bontvisvangers.
  • Die Driftsands-natuurreservaat voorsien opvoedkundige, ontspannings-, ekotoerisme- en ekonomiese geleenthede aan buurgemeenskappe. Forums uit die gemeenskap vergader gereeld met die natuurreservaat se personeel om inligting met mekaar te deel en saam besluite te neem.
  • Die Driftsands-natuurreservaat sorg vir bewuswordingsprogramme vir buurgemeenskappe om spesiale dae soos Boomplantdag, Jeugdag en Erfenisdag te vier.
  • Snelle verstedeliking het ‘n groot uitwerking op Driftsands. Hierdie reservaat het drie nedersettings binne sy grenslyne: Sekumbule, Green Park en Los Angeles. Hierdie dele van die reservaat sal moet gedeproklameer word.

 

 

 

 

 

 

 

Cape Town Environmental Education Trust (CTEET) [Kaapstad se Omgewingsopvoedingstrust (KOOT)]:
  • Die Cape Town Environmental Education Trust (CTEET) is in die lewe geroep vir die voorsiening van residensiële omgewings-opvoedingsprogramme in die stad se natuurreservate.
  • Albei sentrums bied programme aan wat insluit: staptoere, bootvaarte, hinderniswedrenne, voëlkyk, visvang, watergehalte-toetse, asook besoeke aan rioolsuiweringsaanlegte en grondopvullingsterreine.

 

 

 

 

 

 

 

Zeekoevlei Omgewingsopvoedingsprogram (ZOOP)

  • Die Zeekoevlei Omgewingsopvoedingsprojek (ZOOP) het ‘n sentrum op die westelike kus van Zeekoevlei. Die sentrum is in 2001 geopen. Dit bied driedag-tweenag-programme, wat avontuur en opvoeding kombineer, vir skool- en jeuggroepe aan.
  • Groepe gaan tuis in slaapsale by Zeekoevlei of kamp by Rondevlei uit.
Die Valsbaai Ekologie Park-omgewingsentrum (VBEP)
  • Die Valsbaai Ekologie Park-omgewingsentrum op die suidelike oewer van Zeekoevlei is in 2006 geopen. Dit is geleë langs die rioolsuiweringsaanleg, een van Suid-Afrika se belangrikste terreine vir vleilandvoëls. Daar kan 120 leerders gehuisves word.

 

 

 

 

 

 

 

Kaapstad se resiesbane
  • Daar was oorspronklik drie resiesbane in Kaapstad: by Durbanville, Kenilworth en Milnerton. Vandag word slegs Kenilworth en Durbanville se resiesbane gebruik. Die Milnerton-resiesbaan is ontwikkel vir behuising, maar ‘n klein gebied met natuurlike plantegroei het bewaar gebly.
  • Hierdie resiesbaan-terreine is baie belangrike laagland-bewaringsgebiede. ‘n Groot deel van die grond in die middel van die jaagbaan bestaan uit natuurlike veld en op al die terreine is daar ‘n groot aantal inheemse, endemiese en bedreigde plante.
  • Gold Circle Horse Racing and Betting besit die Durbanville en Kenilworth Resiesbaan en is verantwoordelik vir die beskerming van sommige van die mees bedreigde plante ter wêreld!

Resiesbaan

Totaal

Kaapstad endemies

Terrein endemies

Rooi Lys

Durbanville

140

2

 

7

Kenilworth

275

12

6

19

Milnerton

228

12

 

18

 

 

 

 

 

 

 

Die Kenilworth ResiesbaanErica turgida is nou uitgesterf in die natuur.

  • By die Kenilworth Resiesbaan word een van die grootste en rykste gebiede van sandfynbos ter wêreld bewaar. Ongeveer 275 spesies inheemse plante groei binne-in die resiesbaan op ‘n gebied wat omtrent 42 hektaar groot is. Negentien spesies word met uitsterwing bedreig!
  • Tot onlangs het twee spesies slegs by die Kenilworth Resiesbaan voorgekom en nêrens elders op aarde nie: Erica margaritacea en Erica turgida. Ongelukkig het die Erica turgida vandag in die natuur uitgesterf.
  • Moraea elsiae is nog ‘n kritiek bedreigde spesie. Slegs twee plante word by die Kenilworth Resiesbaan aangetref. Hulle groei ook by Meadowridge-meent en in die Blaauwberg-bewaringsgebied. Hulle het ook by Zeekoevlei voorgekom, maar is vandag daar uitgesterf.
  • Die seisoenale vleiland in die middel van die resiesbaan is die tuiste van die kritiek bedreigde mikropadda.
  • In 2005 het tien hektaar van sandfynbos by die Kenilworth Resiesbaan vir die eerste keer in bykans 100 jaar afgebrand. Hierdie beheerde brand is deur bewaarders van die Stad Kaapstad, CapeNature (Kaapse Natuurbewaring) en Kirstenbosch gestig. Fynbos moet brand om die plantegroei te laat regenereer en hierdie kol moes al lankal gebrand het. Ekoloë moniteer die terrein om vas te stel watter uitwerking die brand op plant- en dieroorlewing het.

 

 

 

 

 

 

 

Sentrum vir Bewaringsopvoeding
  • Die Sentrum vir Bewaringsopvoeding is die Wes-Kaapse Departement van Onderwys se omgewingsopvoedingsentrum. Dit is geleë by die Opvoedingsmuseum in Wynberg. Die gebou was vir 170 jaar lank as ‘n skool gebruik.
  • Die sentrum bied kurrikulumgebaseerde lesse oor ‘n verskeidenheid bewaringsverwante onderwerpe aan. Sommige klasse word by die museum aangebied, terwyl andere by natuurlike en kulturele erfenisterreine, bv. Tafelberg, Dalebrook se rotskusstrook, die Tokai Arboretum en Groot Constantia, aangebied word.
  • Tydens die Internasionale Museumweek koördineer die sentrum ‘n tentoonstelling waarby ‘n aantal organisasies betrokke is. Skole word daarheen uitgenooi. Die sentrum se personeellede kan skole ook behulpsaam wees met die ontwikkeling van tentoonstellings by hul skole, bv. om ‘n spesiale herdenkingsdag by die skool te vier.
  • Die sentrum gee ‘n kwartaallikse nuusbrief uit wat gratis na alle skole in die Wes-Kaap versprei word.

 

 

 

 

 

 

 

Leerders besig met 'n JOS aktiwiteit.Stad Kaapstad se Jeugomgewingskool
  • Die Stad Kaapstad se Omgewingshulpbron-bestuursdepartement het die Jeugomgewingskool (JOS) in 1998 van stapel gestuur.
  • Vir sewe jaar al word die Jeugomgewingskool tydens Wêreldomgewingsweek   by die Chrysalis Akademie in Tokai gehou. Duisende laerskoolleerders regoor die stad woon hierdie praatjies, demonstrasies en werkwinkels oor ‘n wye reeks omgewingsonderwerpe by.
  • JOS het tans uitgebrei en sluit meer as net Wêreldsomgewingsweek in. Stad Kaapstad organiseer spesiale programme en geleenthede om omgewingsweke, bv. Waterweek, Boomplantweek en Marieneweek, dwarsdeur die jaar te vier.
  • Die programme vind in verskillende dele van die stad plaas en betrek talle omgewingsorganisasies.

 

 

 

 

 

 

CREW logoCustodians of Rare & Endangered Wildflowers (CREW) [Bewaarders van Skaars en Bedreigde Wilde Blomme (CREW)]
  • Diegene wat by bewaring betrokke is, benodig dikwels inligting oor waar skaars en bedreigde plante groei.
  • Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI)  bestuur die Threatened Species Programme (TSP) (Bedreigde Spesie-program). Hierdie program is verantwoordelik vir die opstel van die Rooi Lys van Suid-Afrikaanse plante, wat inligting oor al die skaars en bedreigde plante in Suid-Afrika verskaf.
  • CREW is in die lewe geroep om die TSP behulpsaam te wees met die opsporing van waar skaars en bedreigde plante voorkom en wat die oorlewing daarvan bedreig.
  • CREW lei vrywilligers op om plante te identifiseer. Hierdie vrywilligers onderneem velduitstappies om te soek na skaars en bedreigde plante in hulle gebied. Sommige groepe van CREW het plante ontdek wat as uitgesterf beskou was!
  • Twee CREW-groepe werk in Kaapstad: die een by die Harmony Flats- en die ander een by die Tygerberg-natuurreservaat.

 

 

 

 

 

 

Ekoskoolprojek
  • Die Ekoskoolprojek is ‘n internasionale projek wat duisende skole in bykans 40 lande betrek. Die projek bied belonings aan skole wat ‘n positiewe bydrae tot die omgewing maak.
  • WESSA koördineer die Ekoskoolprojek in Suid-Afrika.
  • Om ‘n ekoskool te word, moet ‘n skool as ekoskool geregistreer word en ‘n portefeulje opbou wat aantoon hoe die skool van die omgewing leer en dit ook verbeter. Die portefeulje sal beoordeel word en, as die uitslag gunstig is, sal die groen ekoskoolvlag aan die skool toegeken word. Wêreldwyd wapper hierdie vlag al hoe meer by skole. Daarmee word aangedui dat die skool daartoe verbind is om vir die omgewing te sorg.
  • Die Ekoskoolprojek word tans baie vinnig gewild in Suid-Afrika. Jaarliks sluit meer skole by die program aan. In Kaapstad het heelwat skole al ekoskoolnodusse gevorm.
  • Sommige van die aktiefste nodusse in Kaapstad is in Atlantis, Guguletu, Manenberg en Mitchell’s Plain.

 

 

 

 

 

 

 

ESKOM logoElektrisiteitsvoorsieningskommissie (ESKOM): Koeberg-natuurreservaat & Plattekloof Natuurlike Erfenisgebied

ESKOM is die nasionale elektrisiteitsvoorsiener. Die maatskappy bestuur ‘n private natuurreservaat by die Koeberg Kernkragstasie en bewaar ook sandfynbosplantegroei wat onder die elektriese kragdrade in die Plattekloof-gebied groei.

Koeberg-natuurreservaat

  • Hierdie private natuurreservaat in die omgewing van die Kernkragstasie bewaar strandveldplantegroei, vleilande en kusgebiede.
  • Soogdiere in die reservaat sluit in: die bontebok, springbok, duiker, steenbok, Afrika-wildekat en die rooikat. Die bontsebra, eland en gemsbok is ook na die reservaat ingevoer.
  • Bykans 200 voëlspesies is in die reservaat geïdentifiseer, bv. die swarttobie (byna bedreig), blouvalk, Kaapse fisant en die fiskaallaksman. Daar is ‘n voëlskuiling vir voëlkyk.
  • Daar is drie staproetes in die reservaat: die Dikkop-staproete (9.5 –23.3 km), die Grysbok-staproete (2.5 –5.7 km) en die Bergfiets-roete (19 km).
  • Groepe kan bespreek vir opvoedkundige aanbiedings en uitstallings. Toegang tot die reservaat en die gebruik van stap- en bergfietspaaie is gratis.

 

 

 

 

 

 

 

Plattekloof Natuurlike Erfenisgebied

  • Hierdie terrein is 73 hektaar groot, is Y-vormig en strek oor sandfynbos. Dit was die eerste natuurlike erfenisterrein wat in Suid-Afrika (1986) geproklameer is. Dit is onder hoëspanningskragdrade in Edgemead en Monte Vista geleë.
  • Die natuurlike erfenisterrein is geproklameer vir die beskerming van die kritiek bedreigde vlei-uintjie (Serruria aemula). Ongeveer 155 plantspesies is onder die kragdrade aangetref. Twaalf spesies word met uitsterwing bedreig en vyf van hulle groei net in Kaapstad!

 

 

 

 

 

 

 

Omgewingsopvoedingsprogram: Universiteit Stellenbosch (OOPUS)
  • By die Universiteit van Stellenbosch bied die Fakulteit van Opvoedkunde ‘n Omgewingsopvoedingsprogram (OOPUS) [www.sun.ac.za/education/projects] aan.
  • OOPUS ondersteun omgewingsopvoeding in skole deur kursusse vir opvoeders te bestuur en deur naslaanbronne te verskaf:
    • Windows on the Wild is ‘n boek met inligting, lesse en aktiwiteite oor biodiversiteit wat vir Graad 7-10-leerders geskik is.
    • Ons Gee Om bestaan uit ‘n stel leerdergesentreerde aktiwiteite wat kan help om gebruik te maak van die omgewing vir lesse van Graad 4-6.
    • Schools Water Action Project (SWAP) (Skool-Wateraksieprojek) is ’n riviermoniteringsprojek. Met die SWAP-pakket kan sewe eenvoudige toetse uitgevoer word om die gehalte van die water in riviere en vleilande na te gaan. Die pakket kan by OOPUS aangekoop word.

 

 

 

 

 

 

 

Footprints Environmental Centre (Voetspoor-omgewingsentrum)
  • Die Footprints Environmenral Centre is by die Militêre Kamp in Wynberg geleë. Hierdie sentrum bevorder ‘n volhoubare lewenswyse en fokus veral op die vermindering en hergebruik van afval.
  • Tydens ‘n besoek aan die Footprints Environmental Centre kan jy leer van herwinning, hoe om kompos te maak, kunswerke uit afvalmateriaal te skep en hoe om die omgewing skoon te hou.

Footprints logo

 

 

 

 

 

 

Vriendegroepe
  • Vriendegroepe is gemeenskapsgebaseerde groepe wat met die Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) geaffilieer is. Vriendegroepe word gevorm met die doel om te help met die beskerming van plaaslike natuurgebiede, soos riviere, natuurreservate en oop ruimtes.
  • WESSA kan help met die stigting van vriendegroepe wat vir plaaslike natuurgebiede kan sorg.
  • Vriendegroepe ondersteun sommige van Kaapstad se natuurreservate, bv. die Blaauwberg-bewaringsgebied, die Helderberg-natuurreservaat, die Rietvlei-vleilandreservaat en die Tygerberg-natuurreservaat.
  • Ander laagland-natuurgebiede word ook deur vriendegroepe ondersteun, bv. die Oog, die Tokai-plantasie en Rondebosch.
  • Jy kan by vriendegroepe betrokke raak en aan ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite deelneem, bv. fondsinsameling vir projekte, verwydering van indringers, herstel van natuurlike habitats en deelname aan staptoere.

 

 

 

 

 

 

 

Millennium Seed Bank Programme (MSBP) [Millennium Saadbank-program]
  • Die Millennium Saadbank-program is ‘n internasionale plantbewaringsprogram wat deur die Royal Botanic Gardens by Kew in Londen bestuur word.
  • Die program wil verhoed dat plante uitsterf. Hulle streef daarna om teen 2010 minstens 10% van die wêreld se plantspesies te bewaar. Dit behels ongeveer 24 000 plante.
  • In 2000 het die MSBP, in medewerking met Kirstenbosch, begin werk aan die versameling en stoor van saad van Suid-Afrikaanse plante, veral die saad van endemiese, bedreigde en nuttige plante.
  • Die MSBP beoog ook om teen 2010 ongeveer 10% van Suid-Afrika se plante (2500 spesies) te bewaar. Die projek fokus op endemiese, bedreigde en nuttige plante.
  • Voor die beplande brand by die Kenilworth Resiesbaan in 2005, is saad van skaars en bedreigde plante versamel en in die Millennium Saadbank by Kirstenbosch gestoor ingeval die veld nie weer sou groei nie.

 

 

 

 

 

 

 

Parmalat Enviro Centre
  • Die Parmalat Enviro Centre wat by Soetwater naby Kommetjie gevestig is, bied oornaghuisvesting en interessante buitenshuise avontuurkursusse vir groepe van tot 80 leerders aan.
  • Die aktiwiteite sluit in: hinderniswedrenne, avontuurkursusse, staptoere, swem, strandspeletjies en aktiwiteite wat kreatiwiteit bevorder.

 

 

 

 

 

 

 

Primary Science Programme (PSP) [Primêre Wetenskap-program (PWP)]
  • Die Wes-Kaapse Primêre Wetenskap-program (PWP) [www.psp.org.za], werk saam met opvoeders uit meer as 300 skole in minderbevoorregte gebiede van die Wes-Kaap. PWP poog om die onderrig en leer op die gebied van die natuurwetenskappe en ander vakgebiede te verbeter.
  • PWP voorsien opvoedkundige materiaal oor ‘n wye reeks wetenskaplike onderwerpe. Dit kan by PWP bestel word.
  • PWP is by die Edith Stephens-vleilandreservaat  in Lansdowneweg gesetel. Die PWP werk saam met opvoeders daaraan om lesse oor veldwerk te ontwikkel vir laerskole wat die Edith Stephens-park besoek.

 

 

 

 

 

 

 

Schools Environmental Education Project (SEEP) [Skool Omgewingsopvoedingsprojek (SOOP)]
  • Die Skool Omgewingsopvoedingsprojek (SOOP) werk saam met Cape Flats Nature (Kaapse Vlakte-natuurbewaring) daaraan om deurlopend staptoere vir leerders op die Kaapse Vlakte aan te bied.

  • Groepe stap langs die kus deur die Wolfgat-natuurreservaat en dan oor die Philippi-plaasgrond na die Edith Srephens-vleilandpark. Op hierdie stedelike staptoer vind leerders uit hoe die eerste bewoners van die Kaap skulpvis langs die kus versamel het, wildediere gejag het en hoe hulle plaaslike plante vir voedsel en medisyne gebruik het.
  • Die jeug in Mitchell’s Plain en Khayelitsha wat reeds staptoere van SOOP meegemaak het, het staptoere vir skoonmaakdoeleindes by Wolfgat georganiseer en het opleiding ondergaan om staptoerleiers te word.
  • SOOP werk ook saam met die Tafelberg Nasionale Park daaraan om oornag-staptoere vir skole op die People’s Trail-wandelroete aan te bied. Leerders stap deur Oranje-kloof, ‘n deel van die berg wat nie vir die algemene publiek oop is nie, en bring die nag in die People’s Trail-hut bo-op Tafelberg deur.

 

 

 

 

 

 

Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (SANBI)

  • In 2004 is die Nasionale Botaniese Instituut (NBI) deur wetgewing van die parlement verander na die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI). Hierdie organisasie is verantwoordelik vir navorsing oor, bewaring en tentoonstelling van en opvoeding aangaande Suid-Afrika se biodiversiteit.
  • SANBI bestuur agt nasionale botaniese tuine, met inbegrip van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad.
  • SANBI doen navorsing oor baie aspekte van biodiversiteit, insluitend:
    • Identifisering en verslaggewing van Suid-Afrikaanse plant- en dierspesies
    • Identifisering en kartering van Suid-Afrika se ekosisteme
    • Kartering van bedreigde spesies
    • Kweking van inheemse plante
    • Navorsing oor die impak van klimaatsverandering op biodiversiteit
    • Aanleer van volhoubare boerderymetodes
  • Gold Fields-sentrum by Kirstenbosch bied ‘n baie aktiewe omgewingsopvoedingsprogram vir skole aan. Alle grade kan hier besoek aflê vir programme wat met skoolwerk in verband staan.
  • Kirstenbosch Outreach Greening Programme (Uitreik-vergroeningsprogram) help skole met die beplanning, aanplant en versorging van inheemse, waterwyse tuine.

 

 

 

 

 

 

 

'n Uitsig op die Tafelberg Nasionale Park in 'n suidelike rigting.Tafelberg Nasionale Park (TNP)

  • Die Suid-Afrikaanse Nasionale Park (SANPark) is ‘n nasionale regeringsorganisasie wat meer as 20 nasionale parke in Suid-Afrika bestuur, met inbegrip van die Tafelberg Nasionale Park.
  • Die Tafelberg Nasionale Park (TNP) in Kaapstad is die enigste nasionale park in ‘n Suid-Afrikaanse stad. Dit is in 1998 geproklameer.
  • Die TNP bewaar 25 500 hektaar van die bergketting van die Kaapse Skiereiland wat strek van Seinheuwel in die noorde tot by Kaappunt in die suide. Dit beskerm ook 138 kilometer van die kuslyn en 1000 vierkante meter van die see rondom die Skiereiland.
  • Op die bergketting van die Kaapse Skiereiland bewaar die TNP hoofsaaklik bergfynbosplantegroei wat verskil van sandfynbos-plantegroei wat in die laaglande van die stad voorkom.
  • Die mariene afdeling van die TNP is baie ryk aan diere en seegras omdat die Skiereiland die ontmoetingspunt is van twee baie belangrike seestrome, die koue Benguela- en die warm Agulhasseestroom.
  • Die mariene omgewing verkeer onder groot druk weens oorbenutting, besoedeling en kus-ontwikkeling. Die voorraad vis en skulpvis is besig om af te neem en daardeur word die bestaanswyse van vissersgemeenskappe bedreig. Die TNP is behulpsaam met die beskerming van kus- en mariene ekosisteme waarvan baie mense afhanklik is.

 

 

 

 

 

 

 

  • Die Tafelberg Nasionale Park verskaf werkgeleenthede aan werkloses in Kaapstad vir die verligting van armoede: hulle verwyder indringerplante, bou paaie op die berg en beheer gronderosie.
  • Die TNP ontwikkel oornag-staproetes op die berg. Die People’s Trail is vir skole en jeuggroepe beskikbaar. By die Sunbird-sentrum by Silvermine is ook oornaggeriewe beskikbaar.
  • Die TNP se Omgewingservaring-program stel verskillende dele van die TNP, insluitend Kaap die Goeie Hoop, Boulders, Nuweland-woud en Tafelberg self aan skoolgroepe bekend. Die TNP het twee busse vir die vervoer van skoolgroepe daarheen.
  • Die TNP het ‘n opvoedkundige hulpbronpakket uitgegee om opvoeders en leerders meer van dieTNP te leer.
 Pikkewyne at Bouldersstrand

 

 

 

 

 

 

 

Two Oceans Aquarium [Twee Oseane Akwarium]

  • Suid-Afrika se kus en mariene omgewing is ryk aan seeplante en diere vanweë die twee belangrike seestrome wat verby ons kusstreke vloei.
  • By die Twee Oseane Akwarium by die Waterfront in Kaapstad kan meer as 3000 diere uit die kus- en mariene ekosisteem besigtig word. Dit sluit in: krappe, krewe, koraal- en seeanemone, sowel as visse, haaie, seeskilpaaie en pikkewyne.
  • Daar is ook ‘n rivieruitstalling by die akwarium waar sommige van die plante, diere en ekosisteme tussen die oorsprong van die rivier en die see voorgestel word.
  • Die akwarium bied “H20”- of “Heuweltop tot Oseaan”-geleenthede vir opvoedkundige doeleindes aan. Wat ons op land doen, het ‘n impak op riviere wat in vleilande en in die see invloei. Selfs al stort ons nie vullis of chemikalieë regstreeks in die see nie, maar ons gooi 'n pakkie skyfies in die straat of verf in dreineerpype, is die kanse goed dat dit uiteindelik in die see sal beland.
  • In die akwarium leer ons die plante en diere ken wat onder in die see leef. Dit help ons om te verstaan hoe bedagsaam ons op land moet leef sodat ons nie die habitat waarin hulle leef, besoedel of vernietig nie.
  • Skole kan die akwarium besoek om op hul eie na die visse te kyk of hulle kan klasse oor ’n wye reeks omgewingsonderwerpe in die klaskamers bywoon.
  • Die akwarium organiseer ook mariene velduitstappies, kampe en vakansiekursusse, sowel as oorslaap-uitstappies vir families.

 

 

 

 

 

 

 

Universiteit van Wes-Kaapland: Biodiversiteits- en Bewaringsbiologie (UWKBBB)
  • Die Departement van Biodiversiteit en Bewaringsbiologie (BBB) by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voorsien nuttige inligting vir projekte op sy webwerf.
  • Die onderwerpe sluit in:
    • Die wêreld van alge
    • Eco Tree – onderrig van biologiese konsepte
    • EnviroFacts – inligting oor ‘n reeks omgewingsonderwerpe
    • Fokus Op-reeks – aanlyn-tydskrifartikels oor die omgewing
    • Flowering plants of the Cape Flats Nature Reserve – ‘n interaktiewe sleutel (Blomplante van die Kaapse Vlakte-natuurreservaat)
    • Internet Biological Education Project – ondersteun skoolleerwerk (Internet Biologie-opvoedingsprojek)

 

 

 

 

 

 

WESSA logoWESSA

  • The Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) het in 1926 ontstaan. Dit is een van die oudste nie-regeringsorganisasies wat vir die omgewing in Suid-Afrika sorg.
  • WESSA se mikpunt is om mense te laat omgee vir die natuur en om vir die planeet Aarde te sorg. Jy kan ’n lid van WESSA word en deelneem aan die aktiwiteite van jou plaaslike tak, vriendegroepe of omgewingsklubs.
  • WESSA organiseer baie omgewingsprojekte oor die hele Suid-Afrika en probeer verseker dat die ontwikkelings volhoubaar is.
  • Omgewingsklubs by skole of in gemeenskappe kan by WESSA aansluit. Jy ontvang ‘n klub-inligtingspakket wat raad gee oor die stigting en bestuur van klubs, asook tydskrifte en nuusbriewe van WESSA.
  • EnviroKids is WESSA se junior tydskrif. In elke uitgawe word daar op ’n tema uit die omgewing gefokus en die tydskrif is vol inligting oor die omgewing en aktiwiteite in verband daarmee.
  • Share-Net is ‘n projek wat baie brosjures en ander materiaal oor omgewingsopvoeding publiseer. ‘n Bestelvorm is op WESSA se webwerf beskikbaar, of dit kan bestel word van sharenet@wessa.org.za. Sommige hiervan is aanlyn beskikbaar by www.envirolearn.org.za.
  • Die Wes-Kaapse Tak van WESSA is in beheer van talle projekte wat die Ekoskoolprojek en Blouvlag-strande insluit.

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Weskus Veldstudiesentrum:
Stone Dragon Education

  • Die Weskus Veldstudiesentrum is by Brooklyn Borshospitaal gevestig. Die sentrum is binne stapafstand van Zoarvlei af  (ook genoem die Paardeneiland-vleiland).

  • Frank Wygold, ‘n afgetrede ingenieur en toegewyde wetenskapopvoeder, het die Weskus Veldstudiesentrum tot stand gebring. Hy is in beheer van programme wat gegrond is op diepgaande kursusse wat deur die Field Studies Centres in Engeland aangebied word. Frank Wygold gebruik sy pensioengeld om die sentrum en sy programme te befonds.
  • Die sentrum bied ekologie-kursusse van 'n half- of voldag vir Graad 4-12-leerders aan. Die kursusse sluit veldwerk en laboratoriumsessies in.
    • Verskillende habitats, insluitend getyriviere, sandstrande, mere, permanente en seisoenale vleilande en duine kan ondersoek word. Stone Dragon se personeel en vrywilligers bied inligting oor die geskiedenis van die gebied aan. Ook die fisiese toestande, plante, diere en ekologiese verhoudings in die verskillende habitats kan bestudeer word.
    • In die laboratorium word diere van naderby bekyk, die onsigbare lewe in ‘n vleiland word onder 'n mikroskoop waargeneem en meer kan geleer word uit verskeie ekologiese demonstrasies.
  • Die sentrum bied ook driedag-tweenag-naweekkursusse aan wat aktiwiteite in die aand, bv. sterrekyk, insluit.
  • Om die werk van die Weskus Veldstudiesentrum vol te hou, het Frank by Stone Dragon Camping aangesluit om die Stone Dragon Education tot stand te bring. Die maatskappy bied omgewingsopvoeding, buitenshuise avonture en ontwikkeling van entrepreneurskap aan.

 

 

 

 

 

 

Werk vir Water
  • Die Departement van Waterwese en Bosbou (DWWB)  van die nasionale regering is verantwoordelik vir die bewaring van wateropvanggebiede en die beveiliging van Suid-Afrika se varswatervoorraad.
  • Die Werk vir Water-program (gevestig in 1995) betrek heelwat regeringsdepartemente en word deur DWWB gekoördineer. Ongeveer 20 000 mense word jaarliks in diens geneem om indringerplante uit wateropvanggebiede te verwyder.
  • Die DWWB organiseer jaarliks in Oktober die Onkruidbestrydingsweek. Die program beoog om mense bewus te maak van die belangrikheid van die verwydering van indringerspesies.
  • Die DWWB produseer baie bruikbare materiaal oor waterbewaring en indringerplante.
  • Meer as 10 miljoen hektaar van Suid-Afrika is deur indringerplante ingeneem. Dit beslaan 8% van die grond. Indien die indringers nie beheer word nie, kan hulle so versprei dat hierdie persentasie binne slegs 15 jaar verdubbel.

 

 

 

 

 

 

Werk vir Vleilande
  • Suid-Afrika is ‘n droë land; dus is die vleilande kosbaar vir mense, plante en diere. Ongelukkig raak vleilande weens menslike aktiwiteite gedegradeer of verlore.
  • Regeringsdepartemente en ander groepe het die Werk vir Vleilande-program  van stapel gestuur met die doel om vleilande dwarsoor Suid-Afrika te beskerm en te herstel. Die program ondersteun ook navorsing, opleiding en kommunikasie wat op vleilande betrekking het.
  • Werk vir Vleilande is 'n program vir die verligting van armoede wat beskadigde riviere en vleilande herstel.
  • Werk vir Vleilande-spanne help met die beheer van erosie, verklein die risiko van oorstroming, verwyder indringerplante en maak mense bewus van die waarde van vleilande.
  • Werk vir Vleilande het daaraan gewerk om riviere en vleilande in verskeie dele van Kaapstad te herstel, bv. die Tokai-plantasie, Zeekoevlei en Zandvlei. Hulle het met ‘n kwekery begin by die Edith Stephens-vleilandpark  om inheemse plante te kweek en in vleilande oor te plant.

 

 

 

 

 

 

 

 

Werk vir Vuur

  • Elke jaar veroorsaak brande lewens- en eiendomsverliese en dit bring groot onkoste vir Suid-Afrika mee. Maar soms is dit noodsaaklik dat ‘n gebied moet afbrand, bv. die natuurlike brande wat in die fynbos- en graslandekosisteem voorkom.
  • Werk vir Vuur is ‘n nasionale program wat van stapel gestuur is om ‘n geïntegreerde plan te ontwikkel vir die beheer van brande in Suid-Afrika. Werk vir Vuur help om die verliese te verminder wat deur ongewenste en onbeheerde brande veroorsaak word deur brande op ‘n gekoördineerde wyse dwarsoor die land te bestuur.
  • Daar is baie vennote by hierdie program betrokke, bv. die Departement van Waterwese en Bosbou, die Nasionale Rampbestuur-eenheid van die provinsiale en plaaslike regering, die Nasionale Departement van Landbou, plaaslike owerhede, bewaringsagentskappe, die bosboubedryf en private brandbeskermingsverenigings.
  • Werk vir Vuur is ‘n program vir die verligting van armoede. Net soos Werk vir Water en Werk vir Vleilande  voorsien hierdie program ook opleiding en werkgeleenthede aan werkloses.
  • Spanne brandweermanne is dwarsoor die land gestasioneer in gebiede waar daar dikwels wegholbrande is. Sommige mense wat brande moet opspoor en blus, werk op die grond en ander in die lug in helikopters en in vliegtuie.
  • Geïntegreerde brandbestuur sluit in: bewusmaking van wegholbrande, voorkoming van brande, stigting van beplande brande, werk op ‘n gekoördineerde wyse, opspoor van brande, brandbestryding en rehabilitering van gebiede wat deur brande beskadig is.

 

 

 

 

 

 

Zandvleitrust
  • Zandvleitrust  is ‘n nie-winsorganisasie wat in 1988 tot stand gekom het om te help met die beskerming van Zandvlei.
  • Lede van die Zandvleitrust is betrokke by baie bewaringsaktiwiteite, bv. waarneming en rekordhouding van plante en diere, die verwydering van indringers en afval, die plant en instandhouding van inheemse tuine en om meer inligting oor Zandvlei te verskaf.
  • Die Zandvleitrust gee ‘n nuusbrief uit en organiseer interessante praatjies oor die omgewing.

 

 

 

 

 

 

 

 

Klik op die knoppies om meer uit te vind van die bewaring van die stedelike natuur in Kaapstad.
 
  Die Biodiversiteitsnetwerk
  Kaapstad se natuurreservate
  Bewaringsvennote
  Wat van my?