Degradering van die natuur

Om saam te leef in 'n gesonde omgewing

  • Om vir die aarde te sorg, behels nie slegs die beskerming van biodiversiteit nie; dit gaan daaroor om op so ‘n wyse te leef dat ‘n gesonde omgewing in die hede, sowel as in die toekoms, verseker word.
  • Benewens die vernietiging van natuurlike habitats (fragmentering)  en die indringing van indringerspesies, is daar drie ander faktore wat druk op die omgewing uitoefen:
    • Bevolkingsdruk
    • Oorbenutting
    • Besoedeling
  • In hierdie afdeling kyk ons kortliks na sommige van hierdie faktore wat druk uitoefen, die impak daarvan op die mens en die natuur, en wat ons kan doen om meer volhoubaar in Kaapstad te leef.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bevolkingsdruk

In die tien jaar vanaf 1996 tot 2006 het die bevolking van Kaapstad met 700 000 toegeneem en van 2.5 miljoen tot 3.2 miljoen inwoners gegroei. Die bevolking groei vandag stadiger aan as in die negentigerjare, maar ten spyte daarvan is die verwagting dat die bevolkingsgetal teen 2020 vier miljoen sal oorskry. Hierdie toename kan aan twee faktore toegeskryf word:

  • Meer mense word gebore as die wat sterf.
  • Meer mense trek van ander plekke af Kaapstad toe.

 

 

 

 

 

 

 

Verstedeliking

Verstedeliking vind dwarsoor die wêreld plaas. Mense gaan na dorpe en stede om werk te soek en ook ter wille van maatskaplike dienste, soos opvoeding en gesondheidsorg. Vinnige verstedeliking skep egter baie uitdagings.

Die Stad Kaapstad voer ‘n stryd om in die behoeftes van al sy inwoners te voorsien:

  • Baie mense woon in informele nedersettings of in krotte op agterplase omdat daar nie voldoende voorsiening vir behuising is nie.
  • Die werkloosheidsyfer is hoog: daar is min werkgeleenthede vir onopgeleide werkers.
  • Swak dienste word by informele nedersettings gelewer met die gevolg dat gesondheidsprobleme ontstaan omdat vullis nie verwyder word nie en die gesondheidsdienste swak is.

 

 

 

 

 

 

 

 

www.TAC.org.za
Twee uitdagings vir die gesondheid

Een van die redes waarom die bevolkingsgroei in Kaapstad stadiger plaasvind, is omdat meer mense aan siektes, soos tuberkulose (TB) en HIV/VIGS, sterf. Albei hierdie siektes maak dit vir mense moeilik om te werk en dit gee aanleiding tot armoede en maatskaplike probleme.

TB versprei vinnig in die klam, digbevolkte informele nedersettings van die Kaapse Vlakte waar dienslewering swak is, veral by mense wie se immuunstelsels deur HIV/VIGS verswak is. Die gesondheidsdienste voer ʼn stryd om te kan omsien na die groeiende aantal siek mense.

 

 

 

 

 

 

 

 

Oorbenutting

Mahatma Gandhi, een van die leiers met die meeste wysheid wat die wêreld nog ooit gehad het, het gesê: “Earth provides enough to satisfy every man’s need but not evry man’s greed.” (“Die Aarde voorsien genoeg vir elke mens se behoefte, maar nie genoeg vir elke mens se gulsigheid nie.”) Baie van Kaapstad se natuurlike hulpbronne word bedreig omdat sommige mense meer verbruik as wat hulle nodig het:

  • Die Kaapse Vlakte-erika  is ʼn pragtige blomplant wat uitgesterf het in die natuur omdat te veel daarvan gepluk is.
  • Tans word perlemoen en lynvis bedreig omdat te veel daarvan verbruik word.
  • Sandmyne vir die boubedryf vernietig deesdae die Macassar-duine.
  • Soos in die koloniale tye bedreig onbeheerde jag baie diere wat op die Kaapse Vlakte oorleef.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Verdeling van hulpbronne

Kaapstad se natuurlike hulpbronne moet verdeel word onder sy groot en groeiende bevolking. Die inwoners van Kaapstad het getoon dat hulle gewillig is om hulle verbruik van skaars hulpbronne te verminder sodat daar genoeg vir elkeen kan wees.

  • Sedert 2001 toe ʼn ernstige droogte gelei het tot die instelling van waterbeperking, het die gemiddelde verbruik per persoon in Kaapstad met 15% gedaal.
  • In 2006 toe die Koeberg Kernkragstasie minder krag as normaalweg voorsien het, het die mense ook geleer om minder elektrisiteit te gebruik.

ʼn Volhoubare lewenswyse beteken om eenvoudig te leef en vrygewig te deel sodat daar “vir altyd iets vir almal” sal wees.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Besoedeling

Oor die afgelope tien jaar het Kaapstad se bevolking vinnig toegeneem. Terselfdertyd het ons meer as ooit vantevore verbruik. Gevolglik produseer ons groot hoeveelhede afval wat die lug, water en grond besoedel.

 

 

 

 

 

 

 

 

Vaste afval
  • In slegs vyf jaar (1999 – 2004) het die hoeveelheid afval wat by Kaapstad se stortterreine gestort is met 43% toegeneem. In 2004 het elke persoon gemiddeld van 1.8 kilogram afval daagliks (660 kg per jaar) ontslae geraak.
  • In Kaapstad het twee stortterreine reeds gesluit en slegs vier het oopgebly (Vissershok, Kuspark, Faure, Bellville). Hierdie terreine sal voor die einde van 2007 vol wees, maar drie van die terreine sal vergroot word. Niemand wil naby ʼn stortterrein woon nie, maar dit is duur om vullis uit die stad te vervoer.
  • Omdat die opvulruimte ernstig beperk is, moet almal die hoeveelheid afval wat hulle produseer, verminder. Dit beteken dat ons minder moet verbruik, items moet hergebruik en herstel, en afval moet herbenut.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Waterbesoedeling

Baie besoedelingsbronne besoedel Kaapstad se riviere en vleilande:

  • Gronderosie maak die water modderig.
  • Vullis kan mense en diere op riviere en vleilande beseer en ook broeiplekke vir muskiete en ander plae skep.
  • Afvalwater uit lekkende rioolpype kan siektes soos diarree versprei.
  • Bemestingstowwe vanuit tuine, gholfbane en plase laat waterplante in gebiede met afloopwater vinnig groei en dit verstik waterliggame.
  • Afvalwater uit fabrieke kan giftige chemikalieë bevat.
  • Motorolie van garages en padoppervlakke kan water besoedel en diere vergiftig.

Die River Health Programme (Riviergesondheidsprogram) moniteer riviere en vleilande deur die hele Wes-Kaap en slaan dit aan as natuurlik, goed, gangbaar of swak. In 2005 is 65% van alle gebiede in Kaapstad as gangbaar of swak aangeslaan. Slegs ses uit 43 gebiede is as natuurlik aangeslaan.

 

 

 

 

 

 

 

 

Lugbesoedeling
  • Motorvoertuie, die nywerheid en brande dra by tot ernstige lugbesoedelingsprobleme in Kaapstad. Die bruin dynserigheid wat op stil dae oor die stad hang, het ‘n uitwerking op die gesondheid, veral op diegene wat aan asma, brongitis en tuberkulose (TB) ly.
  • Suid-Afrika produseer baie groot hoeveelhede koolstofdioksied [CO2]; trouens, Suid-Afrika is die veertiende hoogste produsent in die wêreld. CO2 is ‘n kweekhuisgas, sowel as een van die gasse wat suurreën produseer. Elke persoon in Kaapstad is gemiddeld vir die produksie van 6.27 ton CO2 per jaar verantwoordelik.
  • Deur minder energie te verbruik, kan ons almal help om die hoeveelheid koolstofdioksied wat in Kaapstad geproduseer word, te verminder. Dit beteken dat ons eerder moet stap of fietsry as om motor te bestuur en dat ons energie spaarsaam in die huis moet gebruik.