Vestiging en uitbreiding

Ontdekkers en setlaars

  • Teen die einde van die 15de eeu het die Portugese die seeroete na Indië om die Kaap ontdek. Toe kon hulle by die Turkse blokkade van die Sy-landroete tussen Sjina en Europa verbykom.
  • Toe Bartolomeus Dias in 1488 by Mosselbaai aan wal gestap het, het die eerste ontmoeting tussen Portugese matrose en die Koisan plaasgevind.
  • Die Koisan het skape, beeste en toegang tot vars water gehad. Dit was presies wat die matrose nodig gehad het; gevolglik het die Portugese op weg na die Ooste by die Kaap aangedoen om met die Koisan in ruil vir water en vleis handel te dryf.
  • Dit het plotseling in 1510 tot 'n einde gekom toe 'n aantal Portugese en hul kaptein, D’Almeida, deur die Koisan vermoor is nadat die matrose van hul kinders ontvoer het om handel af te dwing.

 

 

 

 

 

 

 

  • Vir die daaropvolgende 100 jaar is slegs sporadies met ander Europese skepe by Tafelbaai handel gedryf, maar aan die begin van die 17de eeu het die volume van die verkeer grootliks toegeneem. 

  • Die ruilhandel van Europese metaalprodukte met beeste van die Koisan het met tussenposes plaasgevind tot 1652 toe die Nederlanders, onder leiding van Jan van Riebeeck, besluit het om 'n meer formele verversingspos by Tafelbaai te stig.
  • Namate die nedersetting by Tafelbaai gegroei het, het die verhouding tussen die Nederlanders en die Koisan agteruitgegaan, veral toe vrypag-plase langs die Varschrivier, waar die Goringhaikwa vir geslagte lank hul vee laat wei het, aan Nederlandse burgers toegeken is. Die Koisan is toegang tot hierdie gebiede geweier en het so hul weidingsreg verloor. Dit het in 1659 tot oorlog tussen die Koisan en die Nederlanders gelei. Van Riebeeck het toe 'n ry forte en 'n heining aan die oostelike kant van die Liesbeeckrivier gebou om die grond te beskerm en het dit as NOIK-eiendom verklaar.

 

 

 

 

 

 

 

 

Die mens en grond

  • Die aankoms van die Nederlandse setlaars het 'n ander idee van grondbesit in die Kaap laat ontstaan. Vir die Koisan kon grond en water deur almal op gelyke grondslag gebruik word. Dit het merkbaar verskil van die Europese stelsel waar grond in private besit was en omhein kon word.
  • Dit verbaas 'n mens nie dat hierdie verskillende lewenswyses en -houdings ten opsigte van grondbesit tot konflik sou lei nie. Hoewel die Koisan probeer weerstand bied het, is hulle teen 1740 van die grond af weggedwing. Hulle het hul vee verloor en die meeste van hulle het as veewagters vir die koloniste begin werk.
  • Aangesien die Koisan herders en nie boere was nie, is hulle nie as 'n goeie arbeidsbron vir die landbou beskou nie; hulle is daarom nooit formeel tot slawe verklaar nie. Hulle ekonomiese en sosiale stand het hulle egter uiteindelik in dieselfde minderwaardige kategorie as slawe, met min regte, geplaas

Het jy geweet?

 

 

 

 

 

 

 

Slawerny by die Kaap

  • Slawerny is private eienaarskap van mense. Deur die slawehandel is hulle met geweld uit hul huise verwyder en daarna dikwels in saamgebondelde en vuil toestande na nuwe lande verskeep. Hulle is by veilings verkoop waarna hulle sonder loon by hul eienaars moes werk.

  • Slawerny het algemeen voorgekom teen die tyd toe die NOIK die verversingspos by die Kaap gevestig het. Aanvanklik wou die Kompanjie nie geld bestee om slawe vir hierdie nuwe nedersetting te koop nie, maar hulle het later slawe uit Mosambiek, Madagaskar, Indonesië en Indië ingevoer.
  • Die meeste vroulike slawe was huiswerkers en die meeste mans was arbeiders. Hulle het letterlik die vroeë Kaapstad gebou en het as bouers, kokke, ambagsmanne, houtkappers, timmermans, vissermanne, musikante en plaasarbeiders gewerk.
  • Hul tale, kulture en vaardighede het in ‘n groot mate bygedra tot die ontwikkelende kultuur van Kaapstad, van godsdiens en handel dryf tot feeste en voedsel. Selfs die Afrikaanse taal het ontstaan as 'n taal van slawe wat uit die Nederlandse kolonies in die Verre Ooste gekom het. Dit was eers in Arabiese skrif geskryf.

 

 

 

 

 

 

 

 

Oorbenutting en uitsterwing

  • Die Koisan se lewenswyse was selfonderhoudend omdat die grond in die Kaap en hulle diere in al hulle behoeftes kon voorsien. Dit het 'n hewige impak op hul lewenswyse gehad toe die grond, wat weiding vir hulle vee voorsien het, deur plase vervang is.
  • In teenstelling daarmee was die Nederlanders deel van 'n wêreldhandelstelsel wat hulpbronne uit baie lande nodig gehad het. Daarom moes die setlaars aan die Kaap hout, rys en metaal invoer, nie slegs om die kolonie aan die gang te hou nie, maar ook om 'n diens te lewer aan die skepe van die NOIK wat verby gevaar het.
  • Die gevolg van hewige uitbuiting van die Kaapse hulpbronne, soos hout, was dat dit vinnig opgebruik is. Die hout van die woude rondom Kaapstad is vir brandstof gebruik. Goewerneur Simon van der Stel het die Europese akkerboom ingevoer om hout vir die herstel van skepe te voorsien. Ongelukkig was die Kaapse weer nie koud genoeg om die akkerboom sterk genoeg te laat word nie; gevolglik was die plaaslike hout as boumateriaal vir skepe nutteloos.
  • Kaapse plante is na die buiteland uitgevoer en vandag is daar Kaapse blomplante in baie van Australië en Kalifornië se tuine.

Het jy geweet?

 

 

 

 

 

 

 

Jag het wilde diere by die Kaap laat uitsterf
  • Wilde diere soos die kwagga, eland, swartrenoster, seekoei, bergsebra, rooihartebees, grysribbok, Kaapse leeu, luiperd, hiëna en olifant is gejag en teen 1700 was hulle by die Kaap uitgesterf.

 

  Het jy geweet

 

 

 

 

 

 

 

Menslike ongevalle

  • In die hande van die NOIK het 'n verskriklike lot die San getref. Veediefstal is wreedaardig gestraf en tydens die laat 1700s het meer as 3500 San in georganiseerde aanvalle, wat byna in massamoord ontaard het, gesterf. Vroue en kinders van die San is as arbeiders deur die setlaars gebruik.

  • In 1713 is wasgoed, besmet met waterpokkies, uit 'n skip wat in Tafelbaai vasgemeer land toe geneem om gewas te word. Die siekte het gou versprei en het vinnig 'n epidemie geword. Waterpokkies was 'n nuwe siekte in die Kaap en 90% van die Koisan, wat nie natuurlike weerstand daarteen gehad het nie, het gesterf. Twintig persent van die slawe en vyftien persent Europeërs is ook daaraan dood.

 

 

 

 

 

 

 

 

Vroeë nedersettings

  • Kaapstad het as 'n verversingspos ontstaan, maar het vinnig in 'n kolonie ontwikkel wat tot in 1795 deur die NOIK beheer is. Die uitbreiding van plaasgrond na die Helderbergkom (1678), Stellenbosch (1679) en Constantia (1685) het saamgeval met die begeerte van die groter deel van die bevolking om vryburgers te wees en nie werknemers van die NOIK nie. Die slawe was 'n integrale deel van hierdie groei.
  • Die Nederlanders het probeer om mag oor hulle leiers te behou en het selfs in 1694 die invloedryke sjeik Yusuf, ‘n heilige man en onderwyser, saam met sy volgelinge uit Java, na Kaapstad verban. 'n Altaar, genaamd 'n kramat, is oor sy graf gebou en dit is vandag vir die Moslems 'n plek van aanbidding.
  • Vis was vir die vroeë koloniste en slawe 'n baie belangrike bron van proteïen. Vissersdorpies bv. Gordonsbaai, Vishoek en Kalkbaai het langs die kus tot stand gekom waar natuurlike baaie 'n skuilplek vir vissersbote gebied het. Baie van die slawe wat uit die Ooste gekom het, het oor uitmuntende vissersvaardighede beskik. Hulle het die kern van die Kaapse visbedryf gevorm.

 

 

 

 

 

 

 

'n Britse kolonie

  • Die Britte het die Kaap vir 'n kort tydjie tussen 1795 en 1803 beset. In 1806 het hulle vir die tweede keer die Kaap in besit geneem en dit tot 1910 as 'n kolonie beheer.
  • In 1809 het goewerneur Caledon probeer om 'n einde aan die nomadiese tradisies van die Koisan te maak deur te verklaar dat hulle 'n vaste woonplek moes hê en nie sonder skriftelike toestemming van 'n magistraat tussen streke kon migreer nie.
  • Omdat die grootste deel van die goeie landbougrond deur Setlaars in gebruik geneem is, het die plaaslike Koisan groot probleme gehad om toegang tot weiveld te kry. Sendelinge het met sendingstasies in die Kaap (Namakwaland, Genadendal, Mamre) gepoog om die afstammelinge van die Koisan 'n gebied van hul eie te laat bekom. Die koloniste het hewig daarteen beswaar gemaak omdat hulle die Koisan as arbeiders op hulle plase wou hê.

 

 

 

 

 

 

Slawerny word afgeskaf

Uitgestrektheid van Kaapstad in 1800. Klik daarop!
  • In 1834 is slawerny om humanitêre  sowel as ekonomiese redes afgeskaf. Ongeveer 39 000 slawe is in die Kaap vrygestel en baie bevryde slawe het hulle in die Bo-Kaap, Distrik Ses en op sendingstasies gevestig.
  • Die bevryde slawe moes vier jaar lank vir hul vorige eienaars werk. In die Wet op Meesters en Dienaars van 1834 is beskryf hoe die nuwe meesters en dienaars hulle moes gedra.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kaapstad brei uit

  • Onder Britse heerskappy het Kaapstad vinnig tot 'n kommersiële en finansiële sentrum ontwikkel.
  • Vir bykans 200 jaar nadat die Europeërs hulle in Kaapstad gevestig het, het die meeste ontwikkeling op die Skiereiland plaasgevind omdat dryfsand en vleilande dit moeilik gemaak het om die Kaapse Vlakte oor te steek.
  • In die 1840’s is 'n brug oor die Soutrivier gebou en 'n verharde pad is tussen Kaapstad en Stellenbosch gebou, min of meer waar Voortrekkerstraat vandag is. Huise en besighede het stadig langs hierdie roete begin ontwikkel.
  • In 1860 het werk aan die nuwe Kaapstadse dokke 'n aanvang geneem. Openbare vervoer is ook verbeter namate die spoorwegstelsel begin ontwikkel het. Die eerste spoorweglyn in Suid-Afrika is gebou waar die Waterfront vandag is. Die mense het hulle in die suidelike voorstede begin vestig omdat hulle maklik stad toe kon pendel om te gaan werk.

 

 

 

 

 

 

 

  • Omdat daar nie meer slawe was om die bouwerk by die hawe en aan die spoorweë te verrig nie, het die Britte die Transkei geïdentifiseer as 'n bron van goedkoop arbeid. Die eerste koshuis vir migrerende arbeiders is by die huidige Waterfront gebou.

  • Teen 1846 was meer as die helfte van die Kaapse Vlakte-gebied private plaasgrond, bv. Montagu’s Gift, Duinefontein en Pampoenkraal (later Mitchell’s Plain). Die grond was arm en min van die plase was permanent beset.
  • In 1876 is kleinhoewes in 'n gebied, genaamd die Wynberg-vlakte (tans die Philippi-landbougebied), aan Duitse setlaars toegeken. Hulle het die eerste tuiniers vir die mark in Kaapstad geword. Kleinhoewes is ook gevestig by Claremont-vlakte (Rylands) en Mowbray-vlakte (Athlone en Crawford).
  • Namate Kaapstad se bevolking gegroei het, het die voorsiening van drinkwater 'n ernstige probleem geword. 'n Program vir die bou van damme het tot stand gekom en die Hely Hutchinson-dam is in 1904 in gebruik geneem.

 

 

 

 

 

  • Die regering het die boere aangemoedig om die Port Jackson-wilgerboom en roggras aan te plant om die windverwaaide sand te beheer. Die Port Jackson was toe 'n belangrike boom omdat die bas gebruik was vir die voorsiening van tannien, 'n stof wat in die leernywerheid gebruik is.

  • Teen die 1890’s het die uitvoermark vir tannien in duie gestort en die meeste boere op die Kaapse Vlakte het tuiniers vir die mark geword. In die dae voordat daar motors was, was daar baie perdemis beskikbaar om die arm sandgrond te verryk.

  •  Die ontdekking van goud en diamante in die binneland van Suid-Afrika het die aktiwiteite by die hawe in Kaapstad 'n hupstoot gegee. Die dokke is uitgebrei en het die grootste werkgewer in die stad geword. Baie van die werkers het uit die Mfengu- en Xhosa-bevolking van die oostelike dele van die Kaap Kolonie gekom.

 

 

 

 

 

 

 

Vroeë geforseerde verplasings
Uitgestrektheid van Kaapstad in 1931 - Kilk daarop!
Deur die jare is Kaapstad se migrerende arbeiders dikwels verplaas. Van die Waterfront af is hulle na “Distrik Een” in Groenpunt verplaas en daarna na Distrik Ses, waar ander inwoners hulle blameer het vir die uitbreek van siektes. In 1901 is hulle verplaas na Ndabeni, die eerste swart township in Suid-Afrika. Toe Ndabeni vervalle geraak het, is hulle uiteindelik in 1927 na Langa verplaas. Langa is die oudste oorlewende swart township in Suid-Afrika.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Klik op die knoppies om meer uit te vind van die geskiedenis en ontwikkeling van Kaapstad:
 
Representative pic from section Die vroeë bewoners van die Kaap
Vestiging en uitbreiding
Verstedeliking en Apartheid
Ontwikkelings en uitdagings ná Apartheid