Suid-Afrika se biome
(terug na Bioomkaart)
Die sukkulente-karoobioom
- Die sukkulente-bioom, insluitend die woestyn, strek oor 7.5% van die
land (ongeveer 83 000 km2).
- Hierdie bioom strek oor die dor
westelike dele van Suid-Afrika, wat Namakwaland en die
Richtersveld insluit.
- Die streek is uitermatig droog in die somer en die temperatuur styg
dikwels tot hoër as 40oC. Dit reën in die winter en die
reënval wissel van 20 mm tot 290 mm per jaar.
- In vergelyking met die streke van dieselfde grootte het die
sukkulente-karoobioom die grootste aantal vetplante in die wêreld. Die
meeste van hierdie plante het sukkulente
blare waarvan heelwat baie klein is, soos die
klipplante (met volksname soos klipuintjies of toontjies).
- Die plante in die sukkulente-bioom is aangepas vir die uiters droë
somers en kan dus oorleef. Sukkulente plante soos klein vygies en
crassulas of klipblomme (vetplante met volksname soos heuningbos en
keiserskroon), sowel as die groot
kokerboom,
stoor water in hul blare en/of stamme. Die bas van sommige bome is wit
en dit laat die hitte weerkaats. Eenjarige madeliefies en geofiete
is dormant in
die somer en groei en blom dan na die winterreën.
- Die wilde diere hier is meestal klein, bv. die bakoorjakkals,
meerkat en blafgeitjie. Daar is ook voëls en ongewerwelde diere. Baie
van hulle is nagdiere en kruip bedags in tonnels onder die grond weg om
die warm, droë toestande te vermy.
- Die jaarlikse skouspel van lenteblomme het groot dele van die
sukkulente-karoo bekend gemaak. Blommetoerisme is ‘n belangrike bron van
inkomste vir die streek. In die Klein Karoo word daar met volstruise
geboer.
- Die Succulent Karoo Ecosystem Programme (Sukkulente-karoo
Ekosisteemprogram), (SKEP) is ontwikkel om
hierdie streek te bewaar. Vir meer inligting, besoek
www.skep.org.
|
 |
 |
|