'n Landskap tipies van die savannabioom met elande, gras en doringbome.Suid-Afrika se biome (terug na Bioomkaart)

      Die savannabioom

  • Die savannabioom is die grootste bioom in Suid-Afrika en strek oor 34.4% van die land (ongeveer 435 000 km²). Dit bestaan uit ‘n samevoeging van grassoorte en bome of bossies. Die savannabioom is 'n boswêreld waar tipes boslandskappe met bossoorte aangetref word.
  • Die savannabioom strek vanaf die Kalahari in die noordweste tot by die laeveld in die noordooste en suidwaarts tot by die laaglande van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Dit strek van seevlak af tot hoër as 2000 meter.
  • Dit reën in die somer en die reënval wissel grootliks oor die hele streek van ongeveer 235 mm per jaar in die Kalahari tot meer as 1000 mm per jaar in die ooste.
  • Brande kom dikwels voor. Die meeste plante kan egter weer na brande ontkiem.
  • Meer as 5700 plantspesies groei in die savannabioom. Die spesies sluit verskeie tipes grassoorte (bv. rooigras) en bome in, soos die kremetart, mopanie, kameeldoring en die knoppiesdoring.
  • Die savannabioom is bekend vir sy wilde diere soos die leeu, luiperd, jagluiperd, olifant, kameelperd, vlaktesebra en ook talle voëls. Groot dierreservate soos die Kgalagadi Oorgrenspark en die Nasionale Kruger Wildtuin kom in hierdie streek voor.
  • Die savannabioom is die middelpunt van wildtoerisme en vleisproduksie (wild, beeste en bokke) in Suid-Afrika.