Suid-Afrika se biome (terug na Bioomkaart)

      Die mariene en kus-ekosisteem

  • Suid-Afrika se kuslyn is ongeveer 3000 km lank. Dit sluit rots- en sandkusstroke, sandduine, strande, getyriviere en koraalriwwe in.
  • Twee groot seestrome vloei langs Suid-Afrika se oos- en weskus:
    • Die warm Agulhas-seestroom vloei suidwaarts langs die ooskus.
    • Die koue Benguela-seestroom vloei noordwaarts op langs die weskus.
    • Hierdie twee strome vloei inmekaar en vermeng langs die suidelike en suidwestelike kus.
  • Verskillende seediere en plante leef in die verskillende seestroomsisteme. Dit veroorsaak dat Suid-Afrika se kuslyn ‘n baie ryk mariene lewe het: ongeveer 10 000 mariene spesies kom langs Suid-Afrika se kus voor; dit is gelykstaande aan 15% van al die kus- en mariene spesies ter wêreld. Diere sluit ‘n verskeidenheid vissoorte, dolfyne, walvisse, robbe en seevoëls, onder andere die Afrika pikkewyn en die Kaapse malgas, in.

 

 

 

 

 

 

 

  • Langs die weskus groei groot, bruin seegrasse, wat kelp of seebamboes genoem word, na aan die kus. Kreef, perlemoen en verskeie lynvissoorte leef in hierdie bamboeswoude.
  • In die tropiese water van die noordooskus lok koraalriwwe met hul veelkleurige vissies talle duikers aan.
  • Rotskusstroke is ryk aan skulpvis soos mossels en oesters. Baie fassinerende visspesies en ongewerwelde diertjies leef in die rotspoele.
  • Sandstrande is die gewildste swemstrande. Hierdie strande is die tuiste van spookkrappe, witmossels en ploegslakke. In die noorde van KwaZulu-Natal maak seeskilpaaie nes op hierdie strande.

 

 

 

 

 

 

 

      Die rivier- en vleiland-ekosisteem

  • Riviere en vleilande kom in al die biome van Suid-Afrika voor.
  • In die weste is baie van die riviere en vleilande droog gedurende die somermaande en vloei of bevat water slegs nadat dit gereën het. Die oostelike gedeelte van die land is natter en daar is heelwat meer permanente riviere en vleilande.
  • Daar is baie tipes vleilande: van sponsagtige gedeeltes in die berge, tot tydelike of permanente vleie, soutmoerasse en getyriviere.
  • Plante soos riete, biesies, watergras, waterlelies en aronskelke gedy in en naby water.

 

 

 

 

 

 

 

  • Riviere en vleilande huisves verskeie vissoorte, paddas, ongewerweldes, reptiele soos die Nyl-krokodil en die varswaterskilpad, voëls soos eende, pelikane, reiers en vinke, en soogdiere soos Kaapse otters en seekoeie.
  • Tienduisende voëls migreer jaarliks uit die noordelike halfrond om gedurende die somer voeding in Suid-Afrika se vleilande te vind. Dit is maar een van die baie redes waarom ons vleilande moet beskerm.
  • Suid-Afrika is ‘n halfdor land. Varswater-ekosisteme verkeer onder toenemende druk as gevolg van die groeiende bevolking, die behoeftes van die nywerhede en landbou, asook die bedreiging wat klimaatsverandering inhou.