Suid-Afrika se biome (terug na Bioomkaart)

      Die Nama-karoobioom

  • Die Nama-karoo is die derde grootste bioom in Suid-Afrika, en strek oor ongeveer 20.5% van die land of oor meer as 260 000 km². Dit sluit die uitgestrekte sentrale plato van die westelike gedeelte van die land in.
  • Hierdie streek is ‘n halfwoestyn wat min reën in die somer kry. Reënval wissel van ongeveer 200 mm per jaar in die weste tot 400 mm per jaar in die noordooste. Die somers is baie warm en die winters baie koud en dit ryp dikwels.
  • Die meeste van die plantegroei bestaan uit lae bossies en grassoorte. Baie van die plante is bladwisselend. Bome soos die soetdoring (Acacia karoo) word gewoonlik slegs langs riviere en op klipperige hellings aangetref.
  • Die bakoorjakkals, volstruis, springhaas, skilpad en bruinsprinkaan is van die diere wat algemeen voorkom. Die oewerkonyn, ‘n bedreigde spesie, word in die Nama-karoo aangetref.
  • Daar was nooit dieselfde verskeidenheid wilde diere in die Nama-karoo- as in die savannabioom nie. Maar in die verlede het baie groot troppe springbokke op soek na water en weiding deur die streek gemigreer. Hierdie troppe is uitgewis en deur skape vervang.
  • Die Nama-karoo is bekend vir skaap- en bokboerdery. In die vernaamste riviervalleie word daar ook met olywe, sitrus en sagtevrugte geboer.