Suid-Afrika se biome (terug na Bioomkaart)

      Die graslandbioom

  • Die graslandbioom is die tweede grootste bioom in Suid-Afrika en strek oor 28.4% van die land, of meer as 360 000 km².
  • Die graslandbioom groei in somerreënvalgebiede van seevlak af tot hoër as 2000 meter. Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se graslande word aangetref in die hoëveldgebiede waar dit in die winter ryp, en kom ook voor op hoë berge en plek-plek langs die kus vanaf die Oos-Kaap tot by KwaZulu-Natal.
  • Veelvuldige brande kom in die graslandbioom voor (dikwels jaarliks). Die plante is aangepas om sulke brande te oorleef.
  • Plante groei baie welig in die graslandbioom en daar is verslag van byna 3800 plantspesies gedoen. Aangesien brande deurlopend voorkom, is daar baie min houtagtige plante soos bome (hoofsaaklik langs riviere en op klipperige hellings). Die meeste van die plante bestaan uit grassoorte en geofiete en ander klein blomplante.
  • In die verlede het groot troppe diere soos blouwildebeeste, blesbokke en elande in die graslandbioom voorgekom. Vandag oorleef hierdie diere hoofsaaklik in natuurreservate en op wildplase. Die graslandbioom is ryk aan voëls, waarvan baie saadvreters is, soos die swart korhaan, bloukraanvoël en die gewone tarentaal.
  • Bykans die helfte van die oorspronklike graslandbioom is bewerk vir die aanplant van mielies, sonneblomme, sorghum en koring. Boerdery met lewende hawe, insluitend beeste en skape, word ook hier beoefen.
  • Die grootste deel van Gauteng en die Mpumalanga-hoëveld is in die graslandbioom geleë. ‘n Groot gedeelte van hierdie streek is ook ontwikkel vir mynbou, nywerhede en stedelike ontwikkeling.